E-Book, Afrikaans, 288 Seiten
Du Toit Die Stellenbosch-Mafia
1. Auflage 2025
ISBN: 978-1-77619-439-1
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
'n Verhaal van mag, geld en invloed
E-Book, Afrikaans, 288 Seiten
ISBN: 978-1-77619-439-1
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
PIETER DU TOIT is 'n joernalis en assistentredakteur by News24 en 'n gewilde skrywer. Hierdie Afrikaanse vertaling van sy topverkoper The Stellenbosch Mafia bevat 'n nuwe voorwoord en epiloog.
Autoren/Hrsg.
Weitere Infos & Material
VOORWOORD
DE VOLKSKOMBUIS is ’n restaurant regoor die Markötter-rugbyvelde wat aan Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch se gesogte seunskool, behoort. Stellenbosch was eens ’n dorpie met ouwêreldse sjarme, wat veral bekend was vir sy universiteit, rugbyklub en omliggende wynplase. Vandag is dit egter ’n eksklusiewe, welvarende sakesentrum met die omliggende berge wat as’t ware ’n buffersone skep tussen dié dorp en die res van Suid-Afrika. Dit is ook die tuiste van die sogenaamde Stellenbosch-Mafia.
Nadat De Volkskombuis finansieel moeilike tye beleef het, is dit opgeknap deur, afhangend van na wie jy luister, óf Johann Rupert self óf Remgro, die houermaatskappy van die sigaretfirma Rembrandt wat deur sy pa gestig is.
“Gaan daarheen vir middagete – dis ’n fantastiese plek,” het Rupert gesê ná ’n onderhoud wat hy vir hierdie boek aan my toegestaan het. Die restaurant is ’n Stellenbosse gunsteling wat al jare lank bestaan en in plaaslike Bolandse geregte soos waterblommetjiebredie en ’n smaaklike beesstert spesialiseer. Sedert die opknapping is die effens vervalle, landelike voorkoms vervang deur ’n moderne kombuis met smaakvolle en duur afwerkings; boonop spog die restaurant met ’n wynlys waarop die beste wyne van die omliggende wynlandgoedere te vind is.
In April 2018 het ek ’n middagete daar bygewoon wat Jannie Durand, die uitvoerende hoof van Remgro, gereël het. ’n Kollega en ek sou daardie aand ’n praatjie lewer oor die politieke klimaat in die land – en die ete was ’n geleentheid om met plaaslike sakeleiers oor Suid-Afrika en sy probleme te gesels. Buiten Durand, die vriendelike gasheer, is die middagete ook bygewoon deur Jannie Mouton, afgetrede stigter van die PSG Groep, GT Ferreira, een van die dryfkragte agter Rand Aksepbank, Edwin Hertzog, wat die MediClinic-hospitaalgroep van die grond af opgebou het, Wim de Villiers, die visekanselier van die universiteit, Jean Engelbrecht, eienaar van Rust en Vrede, ’n vooraanstaande Stellenbosch-wynlandgoed, prokureur Arend de Waal, Ronnie van der Merwe, MediClinic se uitvoerende hoof, en Nils Flaatten, ’n voormalige uitvoerende hoof van Wesgro, die Wes-Kaapse regering se ekonomiese ontwikkelingsagentskap.
Die mans om die tafel het tussen hulle van die land se grootste maatskappye en korporasies verteenwoordig, het miljarde rande se bates bestuur, duisende mense in diens gehad en het reeds enorme bydraes tot die land se ekonomie gemaak.
Hulle het hulself as toonaangewend beskou, maar in sommige kringe is hulle daarvan beskuldig dat hulle die hoëpriesters van sogenaamde witmonopoliekapitaal is, ’n vormlose en gesiglose entiteit wat na bewering die ekonomie beheer, werkers uitbuit en op die land teer. Indien die Stellenbosch-Mafia wel bestaan, sit hulle dalk hier reg voor my, het ek gedink terwyl ons ons sitplekke inneem en begin gesels.
Die Stellenbosch-Mafia word beskryf as ’n groep invloedryke wit Afrikanersakemanne wat hul invloed informeel gebruik om die ekonomie te bestuur en vanuit hul Bolandse vesting die nasionale regering se snare te tokkel. Die frase is al jare lank in omloop en het in 2017 gedurende die Bell Pottinger-pogings om staatskaping te verdedig baie mediablootstelling gekry. Daarna het dit nuwe betekenis gekry. Vyftien jaar gelede het dit hoofsaaklik in besigheidskringe voorgekom en is dit slegs gebruik om half snedig te verwys na ’n spesifieke groepie sakemanne in Stellenbosch. Die frase het sedertdien ’n skelwoord geword. Dit herinner aan sameswerings en mag, agteraf gekonkel en onbehoorlike invloed. Die Stellenbosch-Mafia was eens ’n rariteit – die term was ’n aanwendsel van die sakejoernalistiek en vir sommige ’n ereteken en bron van vermaak.
Deesdae het dit egter ’n baie meer sinistere beeld aangeneem, met die Mafia wat daarvan beskuldig word dat hulle die ekonomie manipuleer en selfs in beheer is van die land en die samelewing. En in Johann Rupert – ’n meer as lewensgroot persoonlikheid – het die Mafia kwansuis sy don gevind wat Stellenbosch en die land beheer.
Natuurlik is die Stellenbosch-Mafia ’n fassinerende onderwerp om te ondersoek en selfs meer so ná die skandalige ondergang van Steinhoff en die dood van sy flambojante uitvoerende hoof, Markus Jooste, wat die toonbeeld van ’n tipiese “inkommer” was.
Stellenbosch is ’n dorp van intrige en skinderstories, mag en invloed. Die gemeenskap word volgens klas-, indien nie volgens rasverskille nie, georden. Die dorp se ou geld het altyd meer invloed uitgeoefen as waarop werklik aanspraak gemaak kon word en in alliansie met die akademie het dit gehelp om ’n mikrosamelewing te vorm waarin baie glo dat hulle afgesonder is van die realiteite van die teenswoordige Suid-Afrika. Hierdie oortuiging dat hulle in ’n borrel lewe, of soos hulle in Stellenbosch sê, die Bubble, het op sommige maniere die navorsing vir hierdie boek makliker gemaak, maar op ander maniere weer bemoeilik. Boonop is dit gekompliseer deur die feit dat hierdie skrywer sy vormingsjare op skool en universiteit in Stellenbosch deurgebring het. In hierdie dorp was daar nog nooit ’n tekort aan heerlike, dramatiese stories van bedrog en rampspoed nie; selfs nog voor die Jooste-debakel met die gerugte van vinnige motors, vinnige vroue en vinnige geld wat die ronde begin gedoen het. Dit was duidelik dat, afgesien van Steinhoff, Stellenbosch meer as ’n fenomeen en plek van mag en welvaart is as wat tot op hede berig is.
Vir iemand wat in Stellenbosch grootgeword het, was die navorsing vir hierdie boek moeiliker as wat ek verwag het – per slot van rekening is kroegpraatjies oor wie saam met wie middagete geniet en wie hoeveel op die Johannesburgse Effektebeurs verloor het, kwalik genoeg materiaal vir ’n boek. Van goeie, sappige skinderstories is daar genoeg in Stellenbosch, maar nie alles kon geverifieer word nie. Die dorp se mense was oor die algemeen baie versigtig, selfs diegene wat ek al dekades lank ken. Sommige het geweier om met my te praat, terwyl ander oor baie maande oorreed moes word om anekdotes, gerugte en stories te bevestig.
Tydens die middagete by De Volkskombuis het die gesprek gewissel van staatskaping tot Jacob Zuma se rampspoedige termyn as staatshoof. Daar is vrae gestel oor die staat se vermoë om verandering teweeg te bring en die mate waartoe sekere instellings, soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Tesourie, uitgehol is deur die vorige regering. En of Cyril Ramaphosa, wat toe nog in sy wittebroodtydperk as staatshoof was, die politieke magsbasis en wil gehad het om die nodige fundamentele veranderinge aan party en staat aan te bring om die skade wat deur doelbewuste verwaarlosing en korrupsie veroorsaak is, te herstel.
Durand, ons innemende gasheer, het ons glase gevul gehou met Stellenbosch se beste wyne. Langs my was Mouton rusteloos en ek het begin vermoed ons verveel dalk die beroemde storieverteller en miljardêr tot die dood toe. Namate die middag aangegaan het en die hoofgeregte bedien en verwyder is, het hy nietemin aandagtiger begin luister en meer dikwels aan die gesprek deelgeneem. Net voor die nagereg bedien is, kon hy hom nie meer beteuel nie: “Ja, ja, julle ouens het my vertel wat fout is met die land – maar vertel my nou wat rég is met die land! Gee my ’n bietjie hoop!” het hy gesê. Mouton het daarop gewys dat hy ’n Suid-Afrikaner is en dat hy nêrens anders het om heen te gaan nie. Daar is genoeg goeie mense in die land om ’n toekoms te help bou en dit is wat hy met sy aftrede wil doen. “Ek gaan hierna met rekeningkunde-graduandi praat; wat moet ek hulle oor ons toekoms vertel?”
Hertzog en Ferreira het gepraat oor die verantwoordelikheid van groot besighede om “hul kop bo die skanse uit te steek” ten einde ’n betekenisvolle rol in die samelewing te speel. Ferreira het verwys na ’n botsing met die regering in 2007 toe sy vriend, kollega en mede-Stellenbosser Paul Harris deur Essop Pahad, destyds president Thabo Mbeki se regterhand, gekritiseer is nadat FNB ’n advertensieveldtog oor die uitwerking van misdaad geloods het.
Ek het aangevoer die sakewêreld het sigself nie altyd op glorieryke wyse gedra nie, maar verkies om sy eie belange te beskerm en aktiewe, korporatiewe burgerskap te vermy. Die sakewêreld vervul natuurlik ’n ander maatskaplike funksie as die politiek en aktivisme, maar sekerlik kan hy homself nie isoleer van die samelewing wanneer politieke omwentelinge die land in sy greep het nie? Groot ondernemings is geneig om redelik swak en traag te wees wanneer die samelewing met verandering worstel en stoei. Trouens, dit was eers in die laaste jare van apartheid dat die sakewêreld besluit het om die inisiatief te neem en toe slegs omdat politieke verandering onvermydelik was. In die onmiddellike nasleep daarvan, gedurende die reënboogjare van demokrasie, het die sakewêreld oor sy kollektiewe voete geval om homself by die nuwe orde aan te vly. Staatskaping het opnuut die gebreke van die indoenas van die korporatiewe wêreld getoon: Daar was ’n bykans algehele onwilligheid om met die ANC en die regering te skakel terwyl Zuma se kapingsprojek in volle gang was, selfs al het dit duidelik geword dat die omgewing nie bevorderlik was vir wins nie.
Hertzog het saamgestem. “Ons hou nie daarvan om onsself by die politiek te betrek nie. Dit is nie wat ons doen nie,” het hy gesê en bygevoeg dat die era verby was waarin sakelui hulle in raadsale kon terugtrek en die land aan homself oorlaat om dinge uit te werk.
Dit was absoluut fassinerend om dié geleentheid met Durand, Hertzog, Mouton en ander te kon bywoon. Aanvalle op...




