E-Book, Afrikaans, 140 Seiten
Reihe: Sahara Avontuur
Fouche / Haasbroek Heks van die Sahara
1. Auflage 2025
ISBN: 978-1-928498-00-1
Verlag: Pieter Haasbroek
Format: EPUB
Kopierschutz: 0 - No protection
'n Suid-Afrikaanse Held se Stryd in die Franse Vreemdelegioen, Boek 1
E-Book, Afrikaans, 140 Seiten
Reihe: Sahara Avontuur
ISBN: 978-1-928498-00-1
Verlag: Pieter Haasbroek
Format: EPUB
Kopierschutz: 0 - No protection
Die boek handel oor Teuns Stegmann, 'n Suid Afrikaner, wat aangesluit het by die Franse Vreemdelegioen in die Sahara woestyn, om so die dood van sy broer te probeer wreek, wie se vegvliegtuig afgeskiet is in die Sahara woestyn, gedurende die Tweede Wêreldoorlog.
Sy verhaal begin waar 'n manskap van die Vreemdelegioen 'n aanval deur Arabiere in die woestyn oorleef. Hy praat van 'n wit vrou wat blykbaar die aanvoerder van die aanval op die Franse patrollie was.
Kolonel Le Clerq van fort Dini Salam besluit om dadelik iets daaraan te doen. Hy stuur toe sy getroue kaptein D'Arlan saam met tweehonderd man, waaronder Teuns en sy makkers val, om die sogenaamde wit heks se mag in die Atlasgebergte te gaan breek, voor sy te veel Franse bloed op haar hande het.
Baie gou beland die patrollie egter in ernstige moeilikheid. Hulle word vasgekeer deur die Doelaks in die woestyn, sonder 'n druppel water om te drink. Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hulle later in 'n radioaktiewe Uraanmyn gaan werk. Af en toe word van die manne daar gestuur na die Berg van die Arende toe...
Gaan Teuns se vindingrykheid saam met D'Arlan wat beskou word as die Houdini van die woestyn, hulle uit die penarie red? Lees gerus die opwindende verhaal en vind self uit.
Weitere Infos & Material
HEKS VAN DIE SAHARA
deur
MEIRING FOUCHE
Uitgegee deur:
SKATKIS BOEKE - UITGEWERS
Strand Mews Strand
2018
Heks van die Sahara
Voorbladskets is die oorspronklike voorblad van die 1980’s se uitgawe.
Hierdie boek is die derde uitgawe (aangepaste weergawe).
Kopiereg op hierdie verhaal is voorbehou en dit mag nie in die geheel of gedeeltelik herdruk word of versprei word sonder die nodige skriftelike toestemming van die uitgewer nie. Herdruk sluit in geen vorm van elektroniese of meganiese vorm, bv. deur middel van e-boeke, fotokopiëring, skryf, bandopname of deur enige ander manier vir inligtingsbewaring of ontsluiting. Al die karakters en gebeure in hierdie verhaal is denkbeeldig en het geen betrekking op enige persone, lewendig of dood nie.
HEKS VAN DIE SAHARA
deur Meiring Fouche
ISBN 978-1-928498-00-1
Uitgegee deur:
Skatkis-Uitgewers, Strand Mews, Strand 7140
Suid-Afrika
Kopiereg @ Pieter Haasbroek (2018)
Webwerf: http://www.softcoverbooks.co.za
OPSOMMING
In hierdie eerste verhaal van die Sahara Avontuur reeks, maak u onder andere kennis met Teuns Stegmann. Hy is ’n Suid-Afrikaner wat by die Frans Vreemdelegioen in die Sahara woestyn aangesluit het, om die dood van sy broer daar te kom wreek.
Sy verhaal begin waar ’n manskap van die Vreemdelegioen ’n aanval deur Arabiere in die woestyn oorleef. Hy praat van ’n wit vrou wat blykbaar die aanvoerder van die aanval op die Franse patrollie was.
Kolonel Le Clerq van fort Dini Salam besluit om dadelik iets daaraan te doen. Hy stuur toe sy getroue kaptein D’Arlan saam met tweehonderd man, waaronder Teuns en sy makkers val, om die sogenaamde wit heks se mag in die Atlasgebergte te gaan breek, voor sy te veel Franse bloed op haar hande het.
Baie gou beland die patrollie egter in ernstige moeilikheid. Hulle word vasgekeer deur die Doelaks in die woestyn, sonder ’n druppel water om te drink. Asof dit nie erg genoeg is nie, moet hulle later in ’n radioaktiewe Uraanmyn gaan werk. Af en toe word van die manne daar gestuur na die Berg van die Arende toe.
Gaan Teuns se vindingrykheid saam met D’Arlan wat beskou word as die Houdini van die woestyn, hulle uit die penarie red? Lees gerus die opwindende verhaal en vind self uit.
UITTREKSEL
Nog twee arende maak hul verskyning, duik laag oor die manne heen en een slaan met sy gevaarlike kloue ’n liederlike haal oor Jack Ritchie se nek. Hy skreeu kort en hard van die pyn. Die ander een slaan sy snawel diep in die wang van ’n ouerige Rus wat hard vloek. Hy wikkel sy skouers en probeer so sy bebloede gesig wegdraai van die berg arende se aanslag.
Hulle kom meer en meer, krassend, wiegend op hul groot suisende vlerke en elke keer wanneer hulle aanval, loop die bloed. Die manne gooi hul liggame agteroor en probeer na die gevaartes skop, maar dit vererger net hul woede.
Die manne beur en draai aan die boeie agter hul rûe, maar hulle gee gou op, want elke keer wanneer hulle dit doen, word hul polse net verder gesny deur die skerp kante van hierdie boeie.
“Ons gaan sterf, capitaine,” gil die ouerige Rus amper histeries en dan moet hy weer veg teen ’n skreeuende arend wat sy kloue op die stomme ou man se skouers en kop inlê.
1. HEKS VAN DIE SAHARA
Hoofstuk 1
’N VROU TE PERD
Manskap Podolski, van die Franse Vreemdelegioen, draai sy rug na die geniepsige woestynwind wat van die ver Atlasgebergte aangewaai kom en hy tuur opnuut na die Ooste om te sien of daar nog nie ’n teken van die rooidag is nie. Hy wens hy was nou liewer in die slaapsaal in Dini Salam waar hy hom darem onder die wolkombers sou kon toegemaak het. Dini Salam is ’n vlieënes en ’n bakoond van ’n plek, waar die Sahara son jou ongenadig skroei, maar dit is nogtans beter as hierdie eensaamheid in die woestyn wat jou bedags met sy hitte wil vernietig, en wat jou snags weer laat bibber van die koue.
Podolski wonder wat hom besiel het om vir die Russe kwaad te word. As hy nie vir hulle kwaad geword het omdat hulle sy vaderland, Pole, beset het nie, sou hy nou nie hier op hierdie godverlate sandduin in die koue wind moes wag gestaan het nie. Hier op sy eensame brandwagpos maak hy egter ’n gebaar met sy hande, ’n gebaar van aanvaarding. Want wat sal dit baat om hom nou hieroor te staan en verknies? Hy is in die Franse Vreemdelegioen en dit is die einde van alles. Die Franse Vreemdelegioen moet die Sahara en sy inwoners bewaak.
“Vervloekste Doelaks,” sug Podolski hardop. “As hulle dit nie in hul koppe gekry het om karavane aan te val nie, sou ek nie nou hier moes gestaan het nie. Hulle moet sommer die hele kaboedel vrek skiet, dan sal daar ’n einde aan hierdie bog wees,” sê Podolski bitter.
Hy voel die geringe prikkeling langs sy rug af en hy swaai vinnig in die rondte, tuur noukeurig in die donker rond of hy nie dalk ’n sluipende vyand gewaar nie. Dit is egter nog te donker om goed te kan sien. Daarom trek hy met sy lang Lebel geweer, waaraan hy die bajonet geheg het, ’n sirkel om hom op die grond. Dan swaai hy weer die vuurwapen vinnig in die rondte om hom.
Want hierdie Doelaks is erger as katte, geruisloos, feitlik onsigbaar wanneer die lig nie sterk is nie, en heeltemal dodelik. Podolski dink aan daardie gruwelike nag aan die voorheuwels van die Atlasberge, toe die sluipende Doelaks al die brandwagte van ’n regiment van die Legioen keel afgesny het, voordat hulle eers geweet het wat gaande is.
Maar manskap Podolski gewaar niks. Daar is net die dun gesing van die wind wat deur die petieterige kameelbossies waai en deur die ou woestyngraspolle, wat hier en daar op die kruin van die duin staan.
As dit net wil dag word, hunker dit hier binne Podolski. As ’n mens net eers kan sien. Hy kan nie verstaan waarom die bevelvoerder in Dini Salam nog nie ’n ordentlike ekspedisie mag teen hierdie Doelaks uitgestuur het nie. Hulle moes lankal uitgeroei gewees het.
Maar die weë van die grootkoppe in die Legioen is heeltemal duister. Al wat hulle doen, is om elke keer ’n klein geleide van die Legioenmanskappe saam met die kameel karavane te stuur om hulle te beskerm. ’n Hele paar karavane, met geleides en al, is al deur hierdie bloeddorstige Doelaks uitgeroei. Net verlede week nog.
Podolski se mymeringe word ineens afgebreek en hy word heeltemal koud daar waar hy staan, nog kouer as die aanraking van die voordag wind.
Kan dit ’n perd wees wat iewers gerunnik het?
Hy kan sweer hy het iets gehoor. Iets nie ver nie, miskien agter die volgende duin, wat nou soos ’n groot swart walvis uit die donker voor hom opgroei, want die dag skuiwe stadig agter die aarde uit.
Podolski haal die Lebel vinnig oor en hy doen dit stadig en geluidloos, soos hulle geleer is om dit te doen. Hy wonder meteens hoeveel ure hy al in die vreeslike son op die paradeterrein moes deurgebring het, net om te leer hoe om ’n Lebel geluidloos oor te haal.
Daar is net ’n baie geringe klikgeluid toe hy die slot oop en toe stoot. Hy staar dan met intense konsentrasie na die duin voor hom, na die donker kam daarvan. Dan draai hy weer stadig in die rondte en probeer die omgewing rondom hom bespied. Sy geoefende ore soek na die geringste geluide... Maar daar is net die suising van die wind en niks meer nie.
Dalk het hy hom maar verbeel dat hy iets gehoor het. Dalk is sy senuwees maar te gespanne.
As dit net wil dag word, helder dag, sodat ’n mens ’n vyand se oë kan sien!
Podolski het die sirkel voltooi en hy staar weer ooswaarts van waar die reddende lig van die dag moet kom.
En manskap Podolski, voorheen van die Poolse leër en tans gewone manskap in die Vreemdelegioen, verstyf meteens asof hy ’n skoot deur die hart gekry het.
Hy is nie meer bewus van die wind wat sing nie. Hy voel nie meer die Lebel in sy koue hande nie. Hy weet nie eens dat hy meer asemhaal nie.
Want daar voor hom op die kam van die rooi duin, swart teen die eerste dun gloed van die dag, is ’n ruiter. Swart soos ’n standbeeld. ’n Beweginglose silhoeët, dreigend en roerloos.
Podolski sluk swaar en roer met sy tong oor sy droë lippe.
“Doelak,” fluister hy in die wind en hy stik amper aan die woord, so droog is sy keel.
Hy kyk weer vinnig om hom heen met ’n woedende konsentrasie. Hy verbeel hom dat elke kameelbossie en elke graspol ’n vyand geword het, met die gevreesde steekdolk en die ewe gevreesde kromsabel in hul hande.
Toe Podolski weer ooswaarts kyk, sien hy nog ander. Soos donker skimme het hulle langs die eerste ruiter op die kam verskyn.
En hulle kom nog steeds, die een na die ander, totdat hulle op die kruin ingeryg staan.
Die Poolse manskap wag nie langer nie. Hy spring om en hy lê oop terug na die kamp toe, waar die klompie Legioenmanne om die kameel karavaan kring getrek het...
Hy haas hom gebukkend na die klein tentjie hier aan die een kant van die kamp. Daar is dit volkome stil in die laertjie. Almal slaap nog en een of twee snork so dat Podolski hom...




