E-Book, Afrikaans, Band 2, 304 Seiten
Reihe: Berlin Noir
Kerr Doodsbleek
1. Auflage 2019
ISBN: 978-1-86842-883-0
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
E-Book, Afrikaans, Band 2, 304 Seiten
Reihe: Berlin Noir
ISBN: 978-1-86842-883-0
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
PHILIP KERR (1956-2018) was a British novelist whose crime novels became international best-sellers. He studied philosophy and law at the University of Birmingham and wrote more than 30 novels, specialising in crime fiction and historical thrillers. He is best known for his Bernie Günther novels which are set in Nazi Germany. He died in March 2018.
Weitere Infos & Material
1
Vrydag 26 Augustus
“Nes ’n blerrie koekoek.”
“Wat?”
Bruno Stahlecker kyk van sy koerant af op. “Hitler, wie dan nou anders?”
My moed sink in my skoene by die blote gedagte dat my vennoot met nog een van sy diepsinnige vergelykings oor die Nazi’s gaan uitkom. “Ja, natuurlik,” sê ek ferm, en hoop dat my uitdrukking van totale begrip hom sal ontmoedig om in meer besonderhede uit te wei. Maar vergeefs.
“Hy het nog skaars die Oostenrykse kuiken uit die Europese nes geskop of die Tsjeggiese een kom aan die beurt.” Hy gee die koerant ’n hou met die agterkant van sy hand. “Het jy dié gesien, Bernie? Duitse militêre maneuvers op die grens met Sudeteland.”
“Jip, ek het aangeneem dis waarvan jy praat.” Ek vat die oggendpos en gaan sit om daardeur te sif. Daar is heelparty tjeks, wat help om my irritasie met Bruno in toom te hou. ’n Mens kan dit skaars glo, maar hy het ongetwyfeld al klaar ’n sopie agter die blad. Gewoonlik kry jy skaars ’n woord uit hom uit (wat ek verkies, synde self maar stug), maar gee hom ’n dop en ou Bruno raak so geselserig soos ’n Italiaanse kelner.
“Die snaakse ding is dat die ouers nog niks agtergekom het nie. Die koekoek skop aanhoudend die ander kuikens uit die nes, maar sy aangenome ouers hou aan om hom te voer.”
“Miskien hoop hulle hy bly ’n slag stil en gee pad,” sê ek skerp, maar Bruno is te dikvellig om dit op te let. Ek kyk vlugtig na een brief en lees dit dan weer, stadiger.
“Hulle wil dit net nie raaksien nie. Wat’s in die pos?”
“H’m … Aag, ’n paar tjeks.”
“Geseënd is die dag wat ’n tjek bring. Enigiets anderster?”
“’n Brief, naamloos. Iemand wil hê dat ek hom om middernag in die Reichstag ontmoet.”
“Sê hy hoekom?”
“Hy beweer hy het inligting oor een van my ou sake. ’n Vermiste persoon wat vermis gebly het.”
“Natuurlik. Ek onthou hulle soos wat ek honde met sterte onthou. Uiters ongewoon. Gaan jy?”
Ek haal my skouers op. “Ek slaap deesdae sleg, so waarom dan nou nie?”
“Jy bedoel buiten dat dit ’n uitgebrande bouval is, en dit nie veilig is om jou daarin te begeef nie? Dit kan ’n lokval wees. Iemand is dalk daarop uit om jou van kant te maak.”
“Dalk is dit nog jy wat dit gestuur het.”
Hy lag ongemaklik. “Miskien moet ek maar saam met jou kom. Ek kan buite sig bly, maar darem so dat ek kan hoor wat aangaan.”
“Of skietafstand?” Ek skud my kop. “As jy ’n ou wil doodmaak, nooi jy hom nie na ’n plek toe waar hy op sy hoede sal wees nie.” Ek trek my lessenaar se laai oop.
Op die oog af is daar nie veel verskil tussen die Mauser en die Walther nie, maar ek vat die Mauser. Die handgreep se hoek, die manier waarop hy in jou hand pas, laat hom na ’n heelwat meer substansiële wapen voel as die effens kleiner Walther, en sy slaankrag is groter. Soos ’n vet tjek vervul die wapen my met stille selfvertroue elke keer as ek hom in my jassak steek. Ek beduie met die wapen na Bruno se kant toe.
“En wie my ook al na die partytjie toe uitgenooi het, sal weet ek bring ’n aansteker.”
“En sê nou daar is meer as een van hulle?”
“Nee verdomp, Bruno, moet nou nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie. Ek weet wat die risiko is, dis deel van ons besigheid. Koerantmanne kry nuuswenke, soldate kry bevele en speurders kry naamlose briewe. As ek wasstempels op my pos wou gehad het, sou ek ’n bliksemse prokureur geword het.”
Bruno knik, pluk vlugtig aan sy oogklap en konsentreer dan sy senuagtigheid op sy pyp – die simbool van ons vennootskap se mislukking. Ek haat pyptoerusting: die twaksak, pypskoonmaker, die knipmes en die spesiale aansteker. Pyprokers is die grootmeesters van knutsel en vroetel, en net soveel van ’n klad op die mensdom as ’n sendeling wat op Tahiti aanland met ’n boks bra’s. Dis nie Bruno se skuld nie, want ondanks sy gesuip en irriterende gewoontes is hy steeds die bekwame speurder wat ek van ’n obskure loopbaan in ’n Kripo-stasie in Spreewald gered het. Nee, dis ek wat verkeerd is: ek het agtergekom ek is ewe min geskik vir ’n vennootskap as om Deutsche Bank se president wees.
Terwyl ek so na hom kyk, begin ek skuldig voel.
“Onthou jy wat ons altyd in die oorlog gesê het? As jou naam en adres op iets is, kan jy maar weet dit sal afgelewer word.”
“Ek onthou,” sê hy, steek sy pyp op en neem weer sy Völkischer Beobachter op. Ek kyk hom verwonderd aan. “Jy het ’n groter kans dat ’n outydse dorpsomroeper vir jou die nuus sal gee eerder as daai koerant.”
“Daar sê jy nou ’n ding. Maar ek hou daarvan om soggens koerant te lees, selfs al is dit ’n pot snert.” Ons bly albei ’n rukkie stil. “Hier is nog een van daai advertensies: ‘Rolf Vogelmann, privaatspeurder, spesialiseer in vermiste persone.’”
“Nog nooit van hom gehoor nie.”
“Natuurlik het jy. Verlede Vrydag se koerant het ook ’n advertensie in gehad. Ek het dit nog vir jou gelees, onthou jy nie?” Hy haal sy pyp uit sy mond uit en wys met die steel na my toe. “Jy weet, Bernie, miskien moet ons ook adverteer.”
“Vir wat? Ons het soveel werk as wat ons maar kan hanteer, selfs meer. Dinge het nog nooit so voor die wind gegaan nie, en waarom nou nog geld uitgee? In elk geval, dis reputasie wat in hierdie besigheid tel, nie ruimte in die Party se koerant nie. Hierdie Rolf Vogelmann het beslis geen idee wat hy doen nie. Dink aan al die Joodse besigheid wat ons kan kry. Nie een van ons kliënte lees daai klas stront nie.”
“Wel, Bernie, as jy reken ons het dit nie nodig nie …”
“Soos ’n derde tepel.”
“Party mense het gedink dis ’n gelukbringer.”
“En party het gedink dis genoeg rede om jou op die brandstapel te brand.”
“Die merk van die duiwel, h’m?” Hy grinnik. “Hei, miskien het Hitler een.”
“Net so seker as wat Goebbels ’n gesplete hoef het. Die spul is almal reguit uit die hel uit, elke enkele een van hulle.”
Ek hoor my voetstappe op die verlate Königsplatz eggo toe ek die Reichstag se bouval nader. Net Bismarck op sy voetstuk voor die westelike deur, met sy kop na my kant toe gedraai en sy hand op sy swaard, lyk of hy my gaan uitdaag. Sover ek kan onthou, was hy nooit juis ’n ywerige ondersteuner van die Duitse parlement nie – hy het nooit eens sy voet daar gesit nie – en ek twyfel dus of hy die instelling sal wil verdedig waarop sy standbeeld, dalk heel simbolies, sy rug gedraai het. Nie dat daar in elk geval nou veel aan hierdie Renaissance-styl gebou met sy tierlantyntjies is waarvoor enigiemand sal wil veg nie. Sy fasade is swart van die rook en die Reichstag lyk na ’n vulkaan wat reeds sy laaste en skouspelagtigste uitbarsting gehad het. Maar die brand was meer as net die brandoffer van die 1918-republiek; dit is ook die duidelikste aanduiding wat Duitsland maar kon kry om te wys wat Adolf Hitler en sy derde tepel vir ons inhou.
Ek loop na die noordekant toe wat voorheen Portaal V was, die openbare ingang waar ek eenkeer vantevore ingegaan het, dertig jaar gelede saam met my ma.
Ek los my flitslig in my jassak. ’n Man met ’n flits in sy hand hoef maar net ’n klompie sirkels op sy bors te verf om homself ’n nog duideliker teiken te maak. Boonop is daar meer as genoeg maanlig wat deur die dak se oorblyfsels skyn sodat ek kan sien waar ek loop. Nogtans, toe ek deur die noordelike portaal stap na wat eens op ’n tyd ’n wagkamer was, trek ek die Mauser se sluitstuk hardop oop en toe sodat wie my ook al inwag weet ek is gewapen. En in die spookagtige, hol stilte klink dit harder as ’n afdeling Pruisiese kavalleriste.
“Jy sal dit nie nodig hê nie,” sê ’n stem van die balkon bokant my af.
“Ek sal dit maar in elk geval nog ’n rukkie byderhand hou. Dalk is daar rotte hier rond.”
Die man lag bitter. “Die rotte is lankal hier weg.” ’n Flits skyn in my gesig. “Kom op boontoe, Günther.”
“Dit voel asof ek jou stem behoort te ken,” sê ek as ek die trappe begin klim.
“Ek het dieselfde ding – partykeer herken ek my stem, maar ek herken nie die ou wat dit gebruik nie. Dis mos niks buitengewoons nie, nie deesdae nie.”
Ek haal my flits uit en skyn dit op die man wat ek nou sien retireer in een van die vertrekke in. “Dis interessant om te hoor. Ek sal wat wou gee om jou daardie soort ding daar anderkant in Prinz Albrecht-strasse te hoor sê.”
Hy lag weer. “Jy herken my dus tóg.”
Ek haal hom in by Kaiser Wilhelm I se groot marmerstandbeeld wat in die middel van die groot, agtkantige saal staan, waar my flits uiteindelik sy gelaatstrekke uitlig. Hy lyk kosmopolitaans, al praat hy met ’n Berlynse aksent. ’n Mens sou kon sê dat hy nogal Joods lyk, as jy nou na sy neus se grootte kyk. Dit oorheers die middel van sy gesig soos ’n sonwyser se vin, en trek sy bolip in ’n dun grynslag. Sy gryserige, ligte hare is kortgeskeer, sodat sy voorkop selfs nog hoër lyk. Dis ’n slinkse, geslepe soort gesig, en dit pas hom perfek.
“Verbaas?” vra hy.
“Dat die hoof van Berlyn se kriminele polisie vir my ’n naamlose nota stuur? Nee wat, sulke goed gebeur heeltyd met my.”
“Sou jy gekom het as ek my naam geteken het?”
“Ek glo nie.”
“En as ek voorgestel het dat jy na Prinz...




