E-Book, Afrikaans, Band 3, 320 Seiten
Reihe: Berlin Noir
Kerr Doodslied vir Duitsland
1. Auflage 2019
ISBN: 978-1-86842-885-4
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
E-Book, Afrikaans, Band 3, 320 Seiten
Reihe: Berlin Noir
ISBN: 978-1-86842-885-4
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark
PHILIP KERR (1956-2018) was 'n Britse skrywer wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy speurverhale. Hy het in 1980 'n meestersgraad in filosofie en die regte aan die Universiteit van Birmingham ontvang en het daarna meer as 30 boeke gepubliseer, waaronder veral historiese romans en misdaadfiksie. Sy Bernie Günther-romans speel af in Nazi-Duitsland. Hy is in Maart 2018 oorlede. Vertaal deur die hoogs aangeskrewe Suid-Afrikaanse vertaler, roman- en kortverhaalskrywer ZIRK VAN DEN BERG. Hy is die vertaler van Wilbur Smith se boeke in Afrikaans.
Autoren/Hrsg.
Weitere Infos & Material
2
Daardie nag, op die laaste trein terug Berlyn toe van Potsdam af, sit ek alleen in die treinwa. Ek moes versigtiger gewees het, maar ek is ingenome dat ek die doktor se saak suksesvol opgelos het; en ek is ook moeg, want hierdie besigheid het omtrent die hele dag gevat en ’n groot stuk van die aand ook nog.
Vervoer het ’n groot deel van my dag in beslag geneem. Dit vat oor die algemeen twee of drie keer so lank as voor die oorlog, en wat eens op ’n tyd ’n rit van ’n halfuur Potsdam toe was, vat nou byna twee uur. Ek maak my oë toe om ’n bietjie te slaap. Dan begin die trein stadiger ry en kom stampend tot stilstand.
’n Hele paar minute gaan verby voordat die treinwa se deur oopgaan en ’n groot en baie stink Russiese soldaat inklim. Hy brom ’n groetwoord na my kant toe, waarop ek beleefd knik. Maar ek moet my omtrent dadelik staal toe hy, terwyl hy onvas op sy voete wankel, sy Mosin Nagant-karabyn afhaal en die slot oop- en toemaak. Pleks van na my kant toe te mik, draai hy en skiet by die treinvenster uit. My longe begin na ’n rukkie weer te werk, toe ek besef hy het vir die treindrywer ’n teken gegee.
Die Rus breek ’n wind op en val op ’n sitplek neer toe die trein weer begin beweeg. Hy skuif sy lamvelpet met die agterkant van sy smerige hand agtertoe, leun terug en maak sy oë toe.
Ek haal ’n eksemplaar van die Telegraf uit my jassak, ’n koerant wat deur die Britte uitgegee word. Terwyl ek my een oog op die Iwan hou, maak ek of ek lees. Die meeste van die nuus gaan oor misdaad: Verkragting en roof is in die Oostelike Sone ewe algemeen as die goedkoop wodka wat meestal die oorsaak daarvan is. Partykeer voel dit asof Duitsland steeds in die Dertigjarige Oorlog gewikkel is.
Ek ken maar net ’n handjievol vroue wat nie sal kan vertel hoe hulle deur ’n Rus verkrag of gemolesteer is nie. En selfs al maak ’n mens toegewings ter wille van die paar neurotiese vroue se fantasieë, is daar steeds ’n verstommende hoeveelheid seksmisdade. My vrou ken ’n paar meisies wat nou anderdag nog aangeval is toe die Russe hulle rewolusie se dertigste gedenkjaar gevier het. Een van hierdie meisies wat deur vyf Russiese soldate by ’n polisiestasie in Rangsdorf verkrag is, het as gevolg daarvan sifilis opgedoen en het kriminele aanklagte probeer lê, maar is toe daar en dan gedwing om ’n mediese ondersoek te ondergaan en is aangekla van prostitusie. Maar daar is ook diegene wat reken die Iwans vat maar net met geweld wat die Duitse vroue alte graag aan die Britte en Amerikaners verkoop.
Klagtes by die Sowjet-Kommendatura dat jy deur soldate van die Rooi Leër beroof is, is ewe sinneloos. Jy sal waarskynlik ingelig word dat “alles wat die Duitse volk het, ’n gawe is van die Sowjet-Unie se mense”. Dit kom neer op toestemming vir rowery sonder aansiens des persoons dwarsdeur die Sone, en jy is partykeer gelukkig om nog te lewe om die saak te kan aanmeld. Die Rooi Leër en sy baie drosters se wandade maak dit omtrent net so gevaarlik om in die Sone te reis as om met die Hindenburg te vlieg. Reisigers op die roete tussen Berlyn en Maagdenburg is by geleentheid gedwing om kaal uit te trek en is van die trein af gegooi; die pad tussen Berlyn en Leipzig is so gevaarlik dat mense baiemaal in konvooie ry; die Telegraf berig dat vier boksers wat op pad was om in Leipzig te gaan boks, voorgekeer en van alles buiten hulle lewens beroof is. Die ergste is die vyf-en-sewentig rooftogte wat op die pad tussen Berlyn en Michendorf deur die Blou Limosienbende uitgevoer is, onder aanvoering van onder meer die visepresident van die Sowjetbeheerde polisie in Potsdam.
As mense daaraan dink om die Oostelike Sone te besoek, is my raad eenvoudig “moenie”. En as hulle steeds wil gaan, sê ek: “Moenie ’n polshorlosie dra nie – die Iwans steel hulle graag; dra slegs jou heel oudste jas en skoene – die Iwans hou van gehalte; moenie argumenteer of teëpraat nie – die Iwans skiet jou sommer; as jy moet praat, praat dan luidkeels van die Amerikaanse Fasciste; en moet geen ander koerant lees as hulle eie Tägliche Rundschau nie.”
Dit is alles raad waaraan ek self gehoor moes gegee het, want meteens kom die Iwan in my treinwa op die been en kom staan wankelend voor my.
“Ghdjie wie sosjlie (waar klim jy af)?” vra ek hom.
Hy knip sy oë asof hy hom satgevreet het en staar boosaardig na my en my koerant voordat hy dit uit my hande gryp.
Hy kom van een of ander afgeleë stam af, ’n groot, dom Tsjetsjeen met swart, amandelvormige oë, ’n knoetsige kakebeen so wyd soos die steppe self en ’n bors soos ’n omgekeerde kerkklok: die soort Iwan waaroor ons grappe vertel – hoe hulle nie weet wat toilette is nie en hoe hulle hulle kos in die toiletbakke sit, omdat hulle dink dis yskaste. (Party van hierdie stories is regtig waar.)
“Lzhie (leuens),” snou hy, en swaai die koerant voor hom rond. Tande soos groot geel randstene wys in sy oop, kwylende mond. Hy trap met sy stewel op die bank langs my en leun vorentoe. “Lzhie,” herhaal hy in ’n stemtoon wat nog gruweliker is as die reuk van wors en bier wat sy asem na my hulpelose neusgate toe aanblaas. Dis asof hy my weersin opmerk, en hy rol die gedagte soos ’n suiglekker in sy oeslykende kop rond. Hy laat val die Telegraf op die vloer en hou sy knobbelrige hand na my toe uit. “Ja gatsjoe podarok,” sê hy, en dan stadig op Duits: “Ek wil geskenk.”
Ek gryns in sy rigting en knik soos ’n idioot, en besef dat ek hom sal moet doodmaak of self in die stof byt. “Podarok,” herhaal ek. “Podarok.”
Ek kom stadig op die been, terwyl ek nog gryns en knik, en trek my linkermou op om my kaal gewrig te wys.
Die Iwan gryns nou ook, in die waan dat hy iets goeds op die lyf gaan loop.
Ek haal my skouers op. “Oe menja njet tsjasof,” sê ek om te verduidelik dat ek nie ’n horlosie het om vir hom te gee nie.
“Sjto oe tebja jest (wat het jy)?”
“Nietsjewoe,” sê ek. Ek skud my kop en wys hy kan maar my jassakke deursoek. “Niks.”
“Sjto oe tebja jest?” vra hy weer, dié keer baie harder.
Dit was soos toe ek die arme doktor Novak gevra het of hy enigiets gehad het wat hy kon uitruil. Ondertussen het ek uitgevind dat sy vrou wel deur die MWD, die Russiese geheime polisie, aangehou word.
“Nietsjewoe,” herhaal ek.
Die grynslag verdwyn van die Iwan se gesig af. Hy spoeg op die vloer. “Lzhie,” grom hy en stamp teen my arm.
Ek skud my kop en sê hom ek lieg nie.
Hy reik weer om my te stamp, maar hierdie keer hou hy sy hand terug en vat met sy vuil voorvinger en duim aan my mou. “Dorogo (duur),” sê hy, en voel bewonderend aan die materiaal.
Ek skud my kop, maar die jas is van swart kasjmier – die soort jas wat ek beslis nie in die Sone behoort te dra nie – en dit help nie om teë te stribbel nie. Die Iwan maak al klaar sy belt los.
“Ja gasjoe wasjie koit (ek wil jou jas hê),” sê hy, en trek sy gelapte grootjas uit. Dan loop hy na die treinwa se ander kant toe, maak die deur oop en lig my in dat ek vir hom my jas moet gee, of anders smyt hy my by die deur uit.
Ek twyfel nie daaraan dat hy my gaan uitgooi nie, of ek nou vir hom die jas gee of nie. Dis my beurt om te spoeg.
“Zaboed ob etom (vergeet daarvan),” sê ek. “As jy hierdie jas wil hê, moet jy hom kom haal, jou dom donnerse swienja (vark), jou lelike, dom krjestjan (kleinboer). Komaan, kom vat hom van my af, jou dronk bliksem.”
Die Iwan grom boosaardig en vat sy karabyn van die sitplek af waar hy dit gelos het. Dit is sy eerste fout. Ek het gesien dat hy vir die treindrywer ’n teken gee deur by die venster uit te skiet, en ek weet daar is nie tans ’n lewendige ronde in die kamer nie. Dis ’n afleiding wat hy ’n oomblik ná my maak, maar teen die tyd dat hy die slot ’n tweede keer oop- en toemaak, het ek my stewel se punt in sy mik geplant.
Die karabyn klater op die vloer en die Iwan vou dubbel van die pyn, met een hand tussen sy bene. Met die ander slaan hy woes en tref my op die dy – ’n vrek seer hou wat my been so dood soos braaivleis laat voel.
Toe hy orent kom, laat loop ek met my regter, en skrik as hy my vuis netjies in sy groot poot vang. Hy gryp na my keel en ek stamp hom voluit in die gesig met my kop, wat hom my vuis laat los toe hy instinktief na sy aartappel van ’n neus gryp. Ek slaan weer, en hierdie keer gryp hy my aan my jas se lapelle. Dis sy tweede fout, maar vir ’n enkele, verdwaasde oomblik besef hy dit nie. Blykbaar sonder rede skree hy en steier agteruit, weg van my af, met sy hande voor hom opgelig soos ’n snydokter wat klaar geskrop het. Bloed stroom van sy flenters gesnyde vingers af. Dis eers tóé dat ek die skeermeslemmetjies onthou wat ek maande tevore aan my jas se lapelle vasgewerk het juis vir hierdie soort voorval.
My duikslag stamp hom teen die vloer en halfpad by die voortsnellende trein se deur uit. Terwyl ek op sy skoppende bene lê, worstel ek om te keer dat die Iwan hom weer terugsleep in die wa in. Hande wat taai is van die bloed klou aan my gesig en klem dan desperaat om my nek. Sy greep raak stywer en ek hoor die lug in my keel soos ’n espresso-masjien roggel.
Ek slaan hom hard onder die ken, sommer ’n paar keer, en druk my palm onder sy kaak en probeer hom in die verbyswiepende nagwind in stoot. Die vel op my voorkop rimpel soos ek sukkel om asem te kry.
’n Verskriklike geruis vul my ore, asof ’n granaat reg voor my gesig ontplof het, en vir ’n oomblik is dit asof sy vingers effe...




