Weaver | Op 'n stormsee | E-Book | www.sack.de
E-Book

E-Book, Englisch, 262 Seiten

Weaver Op 'n stormsee

Ware verhale van Suid-Afrikaanse seereddings
1. Auflage 2017
ISBN: 978-1-86842-851-9
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark

Ware verhale van Suid-Afrikaanse seereddings

E-Book, Englisch, 262 Seiten

ISBN: 978-1-86842-851-9
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark



Die waters om die Suid-Afrikaanse kuslyn word as van die gevaarlikste ter wêreld beskou. Wisselvallige weerstoestande, sleurstrome en fratsgolwe is van die faktore wat mense in lewensgevaar laat beland en soms tot tragedies lei. Ongeag die gevaar, is die dapper vrywilligers van die Nasionale Seereddingsinstituut egter altyd bereid om hul eie lewens op die spel te plaas om ander mense te red. Hulle sal dikwels in gure weer en in die donker en ysige koue uitvaar en alles in hul vermoë doen om mense veilig terug te bring. Die boek bevat 'n versameling stories oor waagmoedige reddingspogings gevul met drama en gevaar. Van brandende skepe tot haaiaanvalle en sinkende vistreilers - dit is die verhaal van die mens se ewige stryd teen die see.

TONY WEAVER is 'n veteraanjoernalis en voormalige assistent-redakteur van die Cape Times. Hy is 'n jare lange bewonderaar en vriend van die NSRI.
Weaver Op 'n stormsee jetzt bestellen!

Autoren/Hrsg.


Weitere Infos & Material


1 In die begin


Andrew Ingram en Tony Weaver

Die Overberg- en Suid-Kaapse kusgebied strek van die oostelike punt van Valsbaai by Kaap Hangklip al die pad tot by Mosselbaai en Knysna, en beslaan van Suid-Afrika se rykste viswaters. Dit is ook een van die gevaarlikste kuslyne ter wêreld.

Deesdae kan vissermanne en ander seegebruikers die internet inspan om ’n verskeidenheid weerwebtuistes en toepassings op te roep wat ’n week vooruit inligting kan verskaf oor die seedeining en die wind se doen en late – WindGuru, Yr.no, die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Wavescape, ensovoorts.

Die inligting is verstommend akkuraat, want superrekenaars die wêreld oor prosesseer data van weerstasies en satelliete en gebruik komplekse algoritmes om amper tot op die minuut te bepaal of daar ’n kans is dat die weer gaan versleg, of wanneer die deining gaan oorslaan van ’n goedaardige rimpeling na ’n onbeheerbare monster.

In die ou dae was dit nie so nie. Seegebruikers het elke oggend heel eerste teen hul barometer getik om te sien of die naald styg of daal. Hier onder aan die suidpunt van Afrika beteken ’n stygende barometer dat daar ’n hoëdrukstelsel en suider- tot suidoostewinde op pad is. ’n Dalende barometer beteken dat ’n westelike of noordwestelike koue front op pad is, en ’n barometer wat vinnig daal, beteken dat ’n stormfront met reën, sterk winde en heel moontlik hoë deinings in aantog is.

Ervare seegebruikers kon heelwat te wete kom uit daardie effense beweging van die naald. Vir branderplankryers het ’n dalende barometer en ’n koue front groter, kragtiger golwe beteken. Vir vissermanne was die windrigting baie belangrik omdat dit warmer water naby die kus sou bring, en daarby skole gesogte sportvisse soos geelstert en katonkel (Spaanse makriel of couta).

In 1966 het Gerhard Dreyer as ’n professionele visserman op Stilbaai gewerk. “Ek was ’n goeie paar jaar daar. Ons het skuitjies gehad; dit was nie groot bote nie, maar oop bootjies met binneboord-dieselmotore, en dis hoe ons ons vis gevang het. My boot se naam was Bakvissie.”

Dit was nie ’n goeie jaar gewees nie. “Die see kan rof raak by Stilbaai, en Januarie daardie jaar, 1966, het ’n boot een aand ingekom en omtrent 50 of 60 m van die hawe af omgetiep. Ses manne het verdrink en drie het oorleef. Dit was laat in die nag.

“Die visvangs was daardie jaar baie sleg vir Januarie, Februarie, Maart. My manne het gehuil. Toe een oggend, op 12 April 1966, het ons drie- of vieruur die oggend uitgegaan na Jongensklip se kant. Ons het anker uitgegooi teenoor Jongensklip en daardie dag het die vis uiteindelik rêrig-êrig begin byt. So vinnig as wat jy jou lyn kon inkatrol, het jy hulle gevang.”

Gerhard het teruggevaar Stilbaai toe om hul vangs af te laai en aangesien die weer steeds mooi was, het hulle weer uitgegaan.

“Later, teen omtrent vier- of vyfuur, sê ou Willem Beuker vir my: ‘Daar’s ’n windhond op pad.’ Ek het nie geweet wat hy bedoel nie, toe sê hy: ‘Daar is ’n vreeslike storm op pad.’ Ek sê toe ons moet huis toe gaan, maar my bemanning praat my om om te bly. Dit is die fout wat ek gemaak het. Hulle het gesê hulle het ’n baie moeilike tyd agter die rug en dat ons moet omdraai en aanhou vang.

“En ek het na hulle geluister.”

Gerhard het die boot teruggeneem na die plek waar hulle daardie oggend en later die middag die vis skoongemaak het en teenoor Jongensklip gaan anker, weg van drie ander plaaslike bote, Charmaine, Seabird en Taljaard.

“Ek het nie ’n horlosie aangehad nie, maar ek sou raai dit was omtrent negeuur die aand toe die stroom van rigting verander. Die boeg het min of meer wes gewys, toe draai die stroom reg oos sodat die see nou heeltyd van die kant af na die boot aankom.

“Toe kom die wind en vreeslike golwe en ek sê: ‘Lig die anker!’ Ons vaar uit na die diepsee en ek sê vir die manne: ‘Gooi alles in die boot oorboord, gooi alles uit en pomp water.’ Hulle was kwaad vir my, hulle wou nie die vis oorboord gooi nie. Ek sê vir hulle: ‘Luister na my!’

“En toe gooi hulle maar alles oorboord – alles, die vis, die lyne, alles, tot dit net ons op die boot was. Dit is wat ons gered het.”

Dit was nog agt uur voor sonsopkoms.

Die deining was vreesaanjaend, tot 15 m hoog, en volgens skatting het die wind teen tot 130 km/h gewaai. Die klein vissersbootjie is rondgeslinger en dit is slegs Gerhard se uitstekende seemanskap wat die bemanning gered het.

“Dit was op teen een berg van ’n golf, dan weer af teen die berg – reusegolwe. En dit het so aangegaan en aangegaan tot ek skat so tweeuur of halfdrie die oggend. Toe dit so ’n klein bietjie kalmeer, draai ek die boot om en ons vaar terug met daardie groot golwe agter ons, en ons pomp water dat dit bars. Die manne het die heeltyd gepomp, en toe, toe ons draai en die see is agter ons, het dit ’n bietjie beter gegaan.

“Toe vaar ons huis toe. Ons het net lanterns op die bote gehad, toe sê iemand: ‘Daar’s ’n lantern.’ Die son was besig om op te kom toe ons dié lantern sien. Toe ons by die plek aankom waar ons die lantern gesien het, was daar net planke en vis en truie en goed wat ronddryf.

“Toe sien ons een man in ’n reddingsboei. Ek moes drie keer om hom vaar voor ons hom in die boot ingekry het. Dit was ’n visserman, John Arries.

“Daar was drie ander bote daar, Charmaine, Seabird en Taljaard, en elkeen van hulle het ses bemanning gehad, 18 manne altesaam. En ek het net een oorlewende opgelaai, Arries.

“Sewentien manne het daardie nag verdrink.”

* * *

Die nuus oor die Stilbaai-tragedie het die voorblaaie gehaal, veral in die Wes-Kaapse koerante. Dit het Patti Price, ’n onderwyseres en sweminstruktrise wat self deur die Royal National Lifeboat Institution (RNLI) uit die Engelse Kanaal gered is, veral hard getref.

Luitenant-kommandeur Alan Hollman (Koninklike Vloot, gepensioneerd), wat in 1969 as operasionele offisier by die NSRI aangesluit het en in Maart 1983 uitvoerende direkteur geword het, het ’n informele, ongepubliseerde geskiedenis van die organisasie tot 1991 opgeteken.

Hy skryf dat Patti Price se verhaal vroeg in 1943 begin, toe Suid-Afrika nog lid van die Britse Statebond was en daar ’n Suider-Afrikaanse tak van die Royal National Lifeboat Institution of Great Britain was. Dit was ’n fondsinsamelingsorganisasie wat £36 000, ’n enorme bedrag in daardie dae, ingesamel het om drie groot reddingsbote te bou om sommige van dié wat tydens die oorlog verloor is, te vervang. Die bote was 42-voeters en hul name was Southern Africa, Deneys Reitz en Field Marshal and Mrs Smuts. Hulle het die RNLI vir meer as 20 jaar gedien.

“Een van die voorste lede van hierdie fondsinsamelingskomitee en -werkers was ’n klein, dinamiese vrou genaamd juffrou Patti Price. Sy was diep geskok oor die dood (in 1966) van die vissermanne in Stilbaai en het dit onaanvaarbaar gevind dat Suid-Afrikaners soveel bygedra het tot ’n oorsese reddingsbootdiens, terwyl mense in dié tragedie gesterf het omdat daar geen reddingsboot was om tot hul redding te kom nie. Juffrou Price is self vroeg in haar lewe van ’n skip gered wat op die Engelse Kanaal skipbreuk gely het.

“Sy het dus aan die koerante en ook aan die destydse president van die Society of Master Mariners of South Africa, kaptein John Payn, geskryf en ten sterkste aangedring dat iets daaraan gedoen moes word. Die gevolg was dat die skeepskapteins by hul jaarlikse kongres in Augustus 1966 in Kaapstad besluit het om die Suid-Afrikaanse Kusreddingsdiens op die been te bring, en sodoende is die NSRI gestig.

“Die wese van die nuwe diens was dat die bemanningslede almal vrywilligers was wat geen betaling of toelae ontvang het nie, en tot...



Ihre Fragen, Wünsche oder Anmerkungen
Vorname*
Nachname*
Ihre E-Mail-Adresse*
Kundennr.
Ihre Nachricht*
Lediglich mit * gekennzeichnete Felder sind Pflichtfelder.
Wenn Sie die im Kontaktformular eingegebenen Daten durch Klick auf den nachfolgenden Button übersenden, erklären Sie sich damit einverstanden, dass wir Ihr Angaben für die Beantwortung Ihrer Anfrage verwenden. Selbstverständlich werden Ihre Daten vertraulich behandelt und nicht an Dritte weitergegeben. Sie können der Verwendung Ihrer Daten jederzeit widersprechen. Das Datenhandling bei Sack Fachmedien erklären wir Ihnen in unserer Datenschutzerklärung.