Kerr | Hans-Nazi's | E-Book | sack.de
E-Book

E-Book, Afrikaans, 288 Seiten

Kerr Hans-Nazi's

E-Book, Afrikaans, 288 Seiten

ISBN: 978-1-86842-881-6
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: Wasserzeichen (»Systemvoraussetzungen)



Berlyn, 1936. Hardebaard speurder Bernhard – "Bernie" – Günther word deur 'n miljoenêr-sakeman ingeroep om die moord op sy dogter en skoonseun op te los en waardevolle juwele wat tydens die inbraak gesteel is, te vind. Gewoonlik is Günther op die spoor van vermiste persone, maar in dié onstuimige politieke klimaat betree hy 'n donker onderwêreld waar misdaad, korrupsie en onderhandelinge met Nazi-leiers aan die orde van die dag is. Sy soektog ontbloot 'n skandaal wat hoëkoppe soos Hermann Goering en Heinrich Himmler betrek …
Smerige nagklubs, smeulende filmsterre, oorvol lykshuise en onderonsies met die Gestapo lei uiteindelik tot 'n skokkende onthulling. Die roman speel af in Nazi-Duitsland – 'n milieu wat Kerr met vernuf skets.
Dié Afrikaanse uitgawe van March Violets is die eerste boek in Kerr se Berlin Noir-reeks, sy eerste Bernie Günther-trilogie. Vertalings van die volgende twee romans in die reeks, The Pale Criminal en A German Requiem, verskyn in 2019.
Kerr Hans-Nazi's jetzt bestellen!

Autoren/Hrsg.


Weitere Infos & Material


1
Vreemder dinge het al plaasgevind in die donker drome van die Groot Oorreder … Vanmôre, op die hoek van Friedrich- en Jägerstrasse, staan ek en kyk hoe twee SA-manne ’n rooi Der Stürmer-vertoonkassie van ’n gebou se muur afhaal. Der Stürmer is die anti-Semitiese publikasie van die Reich se voorste Jode-vervolger, Julius Streicher. Die visuele impak van hierdie vertoonkassies, met hulle semipornografiese tekeninge van Ariese maagde in smeulende omhelsings met langneusmonsters, is geneig om die minder verfynde leser se wellus in die verbygaan te prikkel. Ordentlike mense steur hulle nie daaraan nie. Hoe dit ook al sy, die twee SA-manne laai die Stürmer-kästen op hul vragmotor se bak, waar daar reeds verskeie ander lê. Hulle werk nie juis versigtig nie, want ’n hele paar van die glasdeksels is al flenters. ’n Uur later sien ek dieselfde twee mans by ’n tremhalte voor die stadsaal, besig om nog so ’n kassie van die muur af te haal. Hierdie keer stap ek nader en vra waarmee hulle besig is. “Dis vir die Olimpiese Spele,” antwoord een. “Ons is aangesê om almal af te haal, anders kan die buitelandse besoekers wat Berlyn toe kom vir die Spele dalk aanstoot neem.” Ongekende sensitiwiteit aan die kant van die owerhede, sou ek sê. Ek ry terug huis toe in my motor – ’n ou swart Hanomag – en trek ’n liggrys flenniepak aan. Dit het my drie jaar gelede 120 mark uit die sak gejaag, en dis my enigste oorblywende ordentlike pak klere, van ’n kwaliteit wat al hoe skaarser raak in hierdie land; net soos botter, koffie en seep, is die wolstof deesdae meestal ersatz. Dienlik genoeg, maar nie baie duursaam nie en nie juis doeltreffend in die winter nie. Ook nie in die somer nie, om die waarheid te sê. In die slaapkamer bekyk ek myself in die spieël voor ek my beste hoed optel – ’n donkergrys vilthoed met ’n breë rand en ’n swart baratealint om die bol. ’n Doodgewone hoed. Maar, soos die Gestapo, dra ek hom anders as die gewone man, met die rand laer van voor as van agter. Dit steek natuurlik my oë weg, wat dit moeiliker maak vir mense om my te herken. Die styl het sy oorsprong by die Berlynse Misdaadpolisie, die Kripo, waar ek dit aangeleer het. Ek glip ’n pakkie Muratti’s in my baadjiesak en verlaat die huis met ’n stuk Rosenthal-porselein, netjies in geskenkpapier toegedraai, onder my arm. Die huwelikseremonie vind plaas in die Luther Kirche op Dennewitz- platz, net suid van die Potsdamer-spoorwegstasie, en ’n klipgooi van die bruid se ouerhuis. Haar pa, Herr Lehmann, is ’n masjinis op die D-Zug, die sneltrein wat vier keer per week tussen die Lehrterstasie en Hamburg pendel. Die bruid, Dagmar, is my sekretaresse, en ek het nie die vaagste benul wat ek sonder haar gaan doen nie. Ek het ook geen begeerte om uit te vind nie. Ek het dit al dikwels oorweeg om self met Dagmar te trou. Sy is mooi, sy weet hoe om my sake te reël en op my eie vreemde manier is ek seker lief vir haar. Maar op agt en dertig is ek waarskynlik te oud vir haar, en dalk ook net effens te dooierig. Ek is nie juis een vir wilde partytjies nie, en Dagmar is die soort meisie wat ’n bietjie pret verdien. Hier is sy dus nou, op die punt om ewige trou te sweer aan ’n vlieënier. Op die oog af is hy elke meisie se droomman: jonk, aantreklik en, in die grysblou uniform van die Nasionaal-Sosialistiese Vlieënierskorps, die toonbeeld van ’n sjarmante Ariese jongkêrel. Maar toe ek by die onthaal aan hom voorgestel word, is ek teleurgesteld. Soos die meeste Party-lede, het Johannes Buerckel die voorkoms en houding van ’n man wat homself besonder ernstig opneem. Dis Dagmar wat ons aan mekaar voorstel. Heel voorspelbaar kap Johannes sy hakke met ’n luide klikgeluid teen mekaar en knik sy kop stug toe hy my hand skud. “Geluk,” sê ek. “Jy’s ’n bevoorregte man. Ek sou haar self om haar hand gevra het, maar ek dink nie ek sou so goed lyk in ’n uniform nie.” Ek bekyk sy uniform van nader: Op sy linkerbaadjiesak dra hy die SA-Sportkenteken en die Vlieënierskenteken; bo hierdie twee ordetekens is die alomteenwoordige sinistere Party-kenteken; en om sy linkerarm pryk die swastika-armband. “Dagmar sê my jy vlieg vir Lufthansa en is nou tydelik verbonde aan die Lugvaartministerie, maar ek was onder die indruk … Wat het jy nou weer gesê is hy, Dagmar?” “’n Sportvlieënier.” “Dis reg, ja. ’n Sportvlieënier. Ek het nie geweet julle kêrels dra uniform nie.” Dit verg nie veel speurwerk om uit te werk dat “sportvlieënier” een van daardie windmakerige Reich-eufemismes is nie, in hierdie geval vir die geheime opleiding van vegvlieëniers. “Hy lyk spoggerig, nè?” sê Dagmar. “En jy lyk beeldskoon, my skat,” koer die bruidegom gedwee. “Verskoon die vraag, Johannes, maar gaan die Duitse lugmag nou amptelik erken word?” vra ek. “Vlieënierskorps,” sê Buerckel. “Dis ’n vlieënierskorps.” Maar dis al wat hy sê. “En jy, Herr Günther – ’n privaat speurder, nè? Seker ’n interessante werk?” “Privaat ondersoeker,” help ek hom reg. “Soms, ja.” “Watter soort sake ondersoek jy?” “Feitlik enigiets, behalwe egskeidings. Mense tree snaaks op wanneer hulle begin vermoed hulle huweliksmaat knyp die kat in die donker, of wanneer hulle self agter die deur staan. ’n Vrou het my eenkeer aangestel om vir haar man te sê sy is van plan om hom te los. Sy was bang hy maak haar van die gras af. Ek maak toe soos sy sê en, wil jy glo, die swernoot probeer mý pos. Dit kos my drie weke in die St. Gertrauden-hospitaal met my nek in ’n stut. Dit het my vir goed laat afsien van huweliksprobleme. Deesdae doen ek enigiets, van versekeringsondersoeke tot trougeskenke oppas en vermiste persone opspoor – dié van wie die polisie nie weet nie, sowel as dié van wie hulle weet. Ek moet sê, daardie deel van my besigheid floreer sedert die Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het.” Ek gee my mees innemende glimlag en wikkel my wenkbroue veelseggend. “Ons het seker maar almal voordeel getrek uit die Nasionaal-Sosialistiese bewind, of hoe? ’n Regte klomp Maartviooltjies.” “Moet jou nie aan Bernhard steur nie,” sê Dagmar. “Hy het ’n verwronge humorsin.” Ek wil nog verder gesels, maar die orkes begin speel en wyslik lei Dagmar haar man na die dansvloer, waar hulle luid toegejuig word. Verveeld met die sekt wat bedien word, wend ek my na die kroeg, op soek na ’n ordentlike drankie. Ek bestel ’n Bock en ’n Klares – die helder, kleurlose aartappel-snaps waaroor ek gek is – sluk dit af en bestel nog een. “Dorstige besigheid, so ’n troue,” sê ’n kort mannetjie hier langs my. Dis Dagmar se pa. Hy draai sy rug op die kroegtoonbank en kyk trots na sy dogter. “Sy’s ’n lus vir die oog, of hoe sê ek, Herr Günther?” “Ek weet nie wat ek sonder haar gaan doen nie,” sê ek. “Dalk kan u haar oorreed om aan te bly. Die geld sal tog seker handig te pas kom? Jonggetroudes kan mos altyd doen met ’n ekstratjie.” Herr Lehmann skud sy kop. “Ek is bevrees volgens Johannes en sy Nasionaal-Sosialistiese regering is ’n vrou geskik vir net een taak – die een waarvoor sy aan die einde van ’n nege maande wagtydperk kwalifiseer.” Hy steek sy pyp op en trek filosofies daaraan. “In elk geval,” sê hy, “ek skat hulle sal vir een van daardie Reich-huwelikslenings aansoek doen, en dan sal sy nie mag werk nie, of hoe?” “Ja, u is seker reg,” sê ek, en gooi die dop in my keel af. Ek kan op sy gesig sien dat hy my nooit tevore vir ’n drinker aangesien het nie, dus sê ek: “Moenie die verkeerde indruk kry nie, Herr Lehmann. Hierdie goed gebruik ek eintlik as mondspoel, ek is net te verdomp lui om dit uit te spoeg.” Hy lag, klop my op die rug en bestel twee grotes. Terwyl ons drink, vra ek hom waar die gelukkige paartjie hulle wittebrood gaan deurbring. “Aan die Ryn,” sê hy. “Wiesbaden. Frau Lehmann en ek was in Königstein vir ons wittebrood. ’n Mooi deel van die wêreld. Maar hulle gaan skaars terug wees of hy moet weer vort op een of ander Kraft durch Freude-uitstappie, met die komplimente van die Reichsarbeitsdienst.” “O? Waarheen?” “Die Middellandse See.” “Glo u dit?” Die ou man frons. “Nee,” sê hy grimmig. “Ek het niks vir Dagmar gesê nie, maar ek reken hy’s op pad Spanje toe …” “… om te gaan veg.” “Oorlog toe, ja. Mussolini het vir Franco gehelp, en Hitler sal niks wil misloop nie, of hoe? Hy gaan nie rus voor hy ons in nog ’n verdomde oorlog gedompel het nie.” Ons drink voort, en weldra bevind ek my op die dansvloer met ’n oulike sykousaankopertjie by die Grunfeld-afdelingswinkel. Haar naam is Carola en toe ek genoeg van die partytjie gehad het, oorreed ek haar om saam te kom en ons stap oor om Dagmar en Buerckel voorspoed toe te wens. “Dagmar sê my jy was aan die Turkse front. En jy’t die Ysterkruis verwerf.” Eienaardig, dink ek, dat Buerckel juis hierdie oomblik kies om my oorlogrekord op te haal. Is hy effens benoud om Spanje toe te gaan? Ek haal my skouers op. “Darem net in die tweede klas.” So dís wat dit is, dink ek; die vlieënier smag na glorie. “Nietemin,” sê hy, “dis steeds ’n Ysterkruis. Die Führer se Ysterkruis was ook in die tweede klas.” “Wel, ek kan nie namens hom praat nie, maar, soos ek dit onthou, as ’n soldaat hom eerbaar – of betreklik eerbaar –...


Kerr, Philip
PHILIP KERR (1956–2018) was ’n Britse skrywer wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy speurverhale. Hy het in 1980 ’n meestersgraad in filosofie en die regte aan die Universiteit van Birmingham ontvang en het daarna meer as 30 boeke gepubliseer, waaronder veral historiese romans en misdaadfiksie. Sy Bernie Günther-romans speel af in Nazi-Duitsland. Hy is in Maart 2018 oorlede.


Ihre Fragen, Wünsche oder Anmerkungen
Vorname*
Nachname*
Ihre E-Mail-Adresse*
Kundennr.
Ihre Nachricht*
Lediglich mit * gekennzeichnete Felder sind Pflichtfelder.
Wenn Sie die im Kontaktformular eingegebenen Daten durch Klick auf den nachfolgenden Button übersenden, erklären Sie sich damit einverstanden, dass wir Ihr Angaben für die Beantwortung Ihrer Anfrage verwenden. Selbstverständlich werden Ihre Daten vertraulich behandelt und nicht an Dritte weitergegeben. Sie können der Verwendung Ihrer Daten jederzeit widersprechen. Das Datenhandling bei Sack Fachmedien erklären wir Ihnen in unserer Datenschutzerklärung.