De Kock | André P. Brink En die spel van liefde | E-Book | www.sack.de
E-Book

E-Book, Afrikaans, 496 Seiten

De Kock André P. Brink En die spel van liefde

'n biografie
1. Auflage 2019
ISBN: 978-1-86842-795-6
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark

'n biografie

E-Book, Afrikaans, 496 Seiten

ISBN: 978-1-86842-795-6
Verlag: Jonathan Ball
Format: EPUB
Kopierschutz: 6 - ePub Watermark



'n Buitengewone en uitstekende manuskrip.' - Prof. Gerrit Olivier André P. Brink en die spel van liefde is die heel eerste biografie van 'n Suid-Afrikaanse skrywer wat gedurende sy leeftyd in dieselfde asem as Gabriel García Márquez, Peter Carey en Aleksandr Soltzjenitsen genoem is, en wie se romans in meer as 30 tale vertaal is. In Leon de Kock se langverwagte biografie word Brink se persoonlike dagboeke en joernale as die belangrikste bronmateriaal hanteer. Brink het meer as 50 jaar lank sy ervarings en gedagtes pligsgetrou opgeteken: hierdie notaboeke, waartoe De Kock eksklusief toegang verkry het, word nou vir die eerste maal bekend gemaak. Die spel van liefde is 'n omvangryke biografie wat die leser 'n openhartige, onverbloemde blik gee op Brink se gedagtes en gevoelens - oor homself én ander. Brink beskryf die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike asook sy verskeie verhoudings met 'n groot aantal vroue - 'n onderwerp wat hy in sy memoir, 'n Vurk in die pad, maar slegs vlugtig bespreek. Gedurende sy leeftyd het Brink hom nie net teen die politieke bestel verset nie, maar veral ook teen tradisionele seksuele sedes. In hierdie biografie van 'n skrywer aan wie die Nobelprys vir letterkunde byna toegeken is, bekyk De Kock Brink se persoonlike, outobiografiese aantekeninge vanuit 'n kritiese, literêre oogpunt. Daarmee saam vergelyk hy die dagboeke met akademiese en ander, alledaagse bronne, waaronder getuienisse deur Brink se vriende, familie, eggenotes en minnaresse. Die spel van liefde is 'n unieke, belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse lettere, maar veral ook tot navorsing oor Brink se lewe en skryfwerk.

Leon De Kock is 'n literêre vertaler, digter, skrywer en akademikus. Sy mees onlangse boek is Losing the Plot: Crime, Reality and Fiction in Postapartheid Writing. In 2000 het hy die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut se toekenning vir uitnemende vertaalwerk ontvang vir sy Engelse weergawe van Marlene van Niekerk se roman Triomf. Sy en Karin Schimke se vertaling van Vlam in die sneeu (Flame in the Snow) - 'n bundel van André Brink en Ingrid Jonker se liefdesbriewe - is in 2016 met 'n SALA-toekenning vir literêre vertaling en in 2018 met die Sol Plaatje-prys vir vertaling bekroon. Hy woon in Kaapstad.
De Kock André P. Brink En die spel van liefde jetzt bestellen!

Autoren/Hrsg.


Weitere Infos & Material


VOORWOORD


André Philippus Brink, of net “André Brink” – soos hy internasionaal bekend staan – word algemeen beskou as een van die talentvolste, produktiefste, en uitdagendste outeurs in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse letterkunde. Brink, wat in Februarie 2015 op die ouderdom van 79 oorlede is, was ’n gebore en getoë Afrikaner. Hy het van die beste eienskappe vergestalt van die “puriteine van Afrika”,1 soos die historiese romansier W.A. de Klerk na Afrikaners verwys het. Nie net was hy spaarsamig, hardwerkend en produktief nie, maar sy opvoeding en innemendheid het allerlei mense bekoor. Daarby was sy maniere onberispelik, sy humorsin legendaries, en sy openbare beeld elegant. Brink het die rol van andersdenkende in die apartheidsjare met onderskeiding vervul, ondanks die veiligheidspolisie se volgehoue intimidasie teen hom oor baie jare.

Sy produktiwiteit was verbysterend – hy het sy 24 romans aangevul met ’n magdom ander werke, insluitende verhoogstukke, vakliteratuur, vertalings, letterkundige en kunskritiek en hope joernalistiek. In 1982 en 1991, toe hy op die kruin van sy loopbaan was – en toe weer in 1999 – het hy die Nobelprys naelskraap misgeloop.2 Hy is al deur internasionale kritici in dieselfde asem genoem as skrywers soos Aleksandr Solzjenitsin, Gabriel García Márquez en Peter Carey. Ook was hy die eerste Afrikaanse skrywer wie se werk deur die apartheidsregering verbied is – in die opspraakwekkende geval van sy beroemde roman, Kennis van die aand. Dié roman het sy eie mense, wat neokoloniale rasseskeiding tot omvattende wetlike diskriminasie verhef het, as huigelaars ontmasker wat enersyds oor “apart maar gelyk” praat en andersyds politieke teenstanders martel en uit geboue gooi.3 Brink se botsings met sensuur het regstreeks verband gehou met sy reputasie as internasionaal gerespekteerde skrywer. Hy het in Afrikaans en Engels geskryf en sowel kuns as beredenering gebruik om rasseongelykhede te beveg. Dít het hy oor baie jare heen vreesloos gedoen, en duur daarvoor betaal.

Soos alle biografieë rangskik André P. Brink en die spel van liefde die betrokke bronmateriaal op ’n spesifieke manier. Aangesien dit onmoontlik is om ’n lewensgeskiedenis ten volle te beskryf en elke aspek daarvan te dek, moet die meeste biografieë en outobiografieë gemotiveerde aannames maak oor die menselewens wat hulle beskryf. Indien die biograaf gelukkig genoeg is om herhalende temas te identifiseer, mag ’n patroon of ’n stel patrone verskyn wat op ’n groter, dog ontwykende, lewensverhaal dui, en sou die “egte” só ontrafel kan word.

’n Biografiese uitbeelding van ’n skrywer soos André Brink is nóg ingewikkelder omdat hy oor ’n tydperk van 52 jaar noukeurige en omvattende dagboekinskrywings gemaak het. Hy het in sy laaste skooljaar, 1952, daarmee begin.

Indien Brink se handgeskrewe joernale as afsonderlike boeke uitgegee sou word, sou hulle ’n groot aantal volumes beslaan. Die biograaf se taak is om die koring van die kaf te skei en om beduidende patrone, temas en gebeure bloot te lê. Verder lees die biograaf “ego-dokumente” (soos joernale en dagboeke) ontledend en met ’n skeptiese oog – teen die bestaande feite in, binne die toepaslike sosiale en intellektuele konteks, en ook in verhouding tot uiteenlopende vertellings.

Die Brink-joernale lees maklik en vloeiend. Hoewel Brink soms sy eie telegrammatiese snelskrif aangewend het, is sy dagboek-skrywery allermins slordig of onhandig. Heel uitsonderlik wend die joernale fiksie-tegnieke aan soos dialoog, tematiese sinspeling, terugflitse, voorbeduiding en die rangskikking van gebeure in ’n tydgebonde raamwerk. Brink sou byvoorbeeld ’n dagboekinskrywing begin deur te verklaar dat baie dinge in die dae of weke sedert sy vorige skrywe gebeur het, en dan op die inhoud daarvan sinspeel. Daarmee saam tree Brink op as ’n eerstepersoonsverteller en gids terwyl hy besonderhede verskaf oor die betrokke toneel en agtergrond, saam met bondige dialoog en sy eie kommentaar op die gebeure wat hy onder die loep neem. Daar is baie gevalle waarin selfanalise tot diepe onthullings lei, selfs bekentenisse. Brink se algemeen aanvaarde fotografiese geheue en sy merkwaardige vermoë om in ’n oogwink afgeronde prosa te kon lewer sorg vir boeiende leesstof oor sy lewe soos dit ontvou het; die joernale skep ’n soort bronvertelling waarmee enige ernstige Brink-biograaf moet worstel.

Brink het dít wat hy ervaar het met groot toewyding gedokumenteer; en hy het homself nie gespaar nie. Hy het homself ook gereeld ondergrawe terwyl hy ingewikkelde denkpatrone neergepen het wat in veelvuldige, teenstrydige teorieë uitgekring het, byna asof hy met homself gestry het. Dit is asof hy toegegee het dat geen enkele verstand die volle waarheid van enige saak uit ’n enkele hoek kan begryp nie. Soms was hy eenvoudig nie by magte nie – of bloot onwillig – om moeilike aangeleenthede, ongemaklike waarhede inkluis, uit te pluis. Die man wat in die joernaal te voorskyn kom is minder besorg oor sy beeld op papier as oor die ontginning, deur middel van die skryfproses, van ’n omvattende stel verklarings oor wat in sy lewe gebeur het. Hoewel dit op die oog af voorkom asof hy die joernale net vir homself geskryf het, blyk dit ook dat Brink daarvan bewus was dat ander mense mettertyd sy joernaalinskrywings sou lees. ’n Voorbeeld daarvan is ’n inskrywing uit 2002 waarin hy ’n gewese minnares verseker dat hy reeds begin het om sekere name in sy joernale uit te krap “om aan [haar] te bewys dat [hy] [haar] nooit sal verraai nie, nie eers na [sy] dood nie”.4 Dit volg nadat die vriendin self klaarblyklik die moontlikheid geopper het dat Brink “iets mag oorkom”, en dat kompromitterende materiaal dan in sy “papiere” te voorskyn sal kom.5 Die gedagte aan toekomstige lesers druk swaar op albei se gemoedere, wat sterk dui op hul gesamentlike veronderstelling dat Brink se “papiere” ná sy dood noukeurig deur akademici en navorsers ondersoek sou word.

Brink se fenomenale geheue het sy gedetailleerde verslaggewing versterk, en die joernale is gevolglik relatief betroubaar, in sowel die omvang van die dekking as die diepte van die persoonlike onthullings wat hulle bevat. Dikwels verleen Brink drama aan sy teenstrydige gedagtes en gevoelens oor verskeie onderwerpe – mees opvallend die vroue in sy lewe. Terwyl hy geskryf het, het hy met sy eie, ongeredigeerde en teenstrydige impulse geworstel. Sy neiging was om te besin oor situasies en motiverings, moontlikhede en geleenthede. In hierdie biografie het ek probeer om die verteltekstuur – die onbeslistheid en kringdenke – van Brink se beskryfde lewe te behou. Synde onverwerkte ervaring voldoen die lewe nie aan die woordekonomie van ’n vertelling nie. Daarom het ek in sommige gevalle toegelaat dat die neergepende lewe soos dit ervaar is, sy warrelende, wanordelike vorm, of vormloosheid, onthul.

Dit wil voorkom asof Brink se vernaamste oogmerk, toe hy sy joernaalinskrywings gemaak het, die verkenning en ware oordrag van sy gedagtes en gevoelens was, ofskoon dit gedoen is in die oomblik van begeerte, of die kilte van twyfel en angstigheid. Die joernaal was sy veilige hawe, die skoon bladsy sy mees vertroude vesting. Dáár kon hy aan homself bewys dat hy inderdaad die persoon was wat hy deur middel van sy dade in die buitewêreld geprojekteer het. Op dié manier het hy sy ervarings gekonsolideer en bevestig. In haar biografie oor James Joyce skryf Edna O’Brien dat dié outeur sy geheimste impulse op papier verewig het “om sowel sy nalatenskap as sy bevryding” te boekstaaf; op soortgelyke manier het Brink sy eie waarheid oor homself en die mense om hom vreesloos neergeskryf. En soos Joyce het hy geen poging aangewend om hierdie geskrifte te vernietig nie, al was daar oorgenoeg kanse daarvoor.6

Een voorbeeld van die soort selfkritiek wat ’n mens in Brink se joernale raak lees is ’n inskrywing oor sy ergernis teenoor Hermione Harris, sy soms gewillige, soms teensinnige geliefde in die middel-sestigerjare, tydens ’n vakansie saam met Breyten en Yolande Breytenbach in Ponta do Ouro, Mosambiek, in 1967. Brink beskryf sy “woedende uitbarsting” te midde van beproewende reisomstandighede, en Harris se beweerde seksuele onttrekking aan hom:

[D]ié viciousness in my het ek tevore al gesien, bowenal by Ingrid, telkens as ek begin vrees het ons staan nie meer saam nie; die wêreld is te swaar vir 2 wat nie eendragtig is nie. En dan word dit ’n perverse soort toets: O.k., jy hou jou terug; dan sal ek jou wys dat ek so bitter kan wees dat jy nie van my sal durf hou nie (kleinserige selfverdediging): ek sal bitsig & wreed wees; en as jy net die destruktiewe sien dan faal jy; as jy sien hoe dit gebore word uit bang, gekwetste liefde, dan kom ons saam anderkant uit. Perverse sadisme wat heeltemal destruktief word.7

Hier ontleed Brink een van sy meer twyfelagtige karaktertrekke en haal homself oor die kole, hoewel sulke bekennings ironies een van sy sterk punte was. Brink se...



Ihre Fragen, Wünsche oder Anmerkungen
Vorname*
Nachname*
Ihre E-Mail-Adresse*
Kundennr.
Ihre Nachricht*
Lediglich mit * gekennzeichnete Felder sind Pflichtfelder.
Wenn Sie die im Kontaktformular eingegebenen Daten durch Klick auf den nachfolgenden Button übersenden, erklären Sie sich damit einverstanden, dass wir Ihr Angaben für die Beantwortung Ihrer Anfrage verwenden. Selbstverständlich werden Ihre Daten vertraulich behandelt und nicht an Dritte weitergegeben. Sie können der Verwendung Ihrer Daten jederzeit widersprechen. Das Datenhandling bei Sack Fachmedien erklären wir Ihnen in unserer Datenschutzerklärung.